Tel:082 923 4087 | Mail: jningram@iafrica.com



carolina water

Carolina inwoners vrees  weer waterbesoedeling

Dit blyk dat die waterprobleme  van Carolina en omgewing nog nie iets van die  verlede is nie.

In 2012 is dit die eerste keer berig dat die drinkwater van so ‘n  swak gehalte was dat dit nie geskik was vir menslike of dierlike gebruik nie. Destyds is bevind dat die water 'n baie hoë suurinhoud het ( dit kon daaraan toegeskryf word dat daar 'n vermoede bestaan het dat die besoedelde suur mynwater, afkomstig vanaf myne in die omliggende omgewing, die gebied se waterbronne binne gedring het) en 782 gevalle van diarree is gerapporteer. Sedertdien het die inwoners gekla oor diarree en het die vrees ontstaan dat cholera kon uitbreek, maar ten spyte van beloftes van die Al;bert Luthuli Munisipaliteit, lyk dit of daar nog niks gedoen is om die swak gehalte van die water te verbeter nie.

Twee maande gelede het 'n onafhanklike navorser die water getoets en bevind dat dit sekere stofdeeltjies bevat. Die plaaslike munisipaliteit sê nog steeds dat die water geskik is vir menslike gebruik en dat hulle die water daagliks toets.

Ten spyte daarvan het veskeie inwoners bevestig dat die water so vuil is dat 'n mens dit nie kan drink nie. Hulle kan ook nie hulle wasgoed was nie omdat die modderige water die klere vlek.”

Inwoners sê ook dat hulle die meeste van die tyd vanaf ongeveer agtuur in die oggend tot vieruur in die middag geen water het nie. As daar water is, is dit bruin en modderig en ongeskik vir normale huishoudelike gebruik. Die ongereelde en onsekere en onveilige lewering van water veroorsaak dat gastehuise groot verliese ly omdat hulle nie aan hulle gaste skoon en veilige water kan voorsien nie.'n Ander moontlikheid is om 'n boorgat te sink – maar baie mense kan nie die gepaardgaande uitgawes bekostig nie. Gebottelde water moet gekoop word of water moet verkry word  van 'n fontein in die dorp.

“Albert Luthuli Munisipaliteit kommunikeer nie met ons nie,” beweer inwoners. “ Ons weet nooit wanneer daar water gaan wees nie of wat gaan gebeur as die water vuil is nie.”

Een inwoner sê : “Ons het nie geld om gebottelde water te koop nie,  dus gaan haal ons water by die fontein in die dorp wat sowat 15 kilometer van ons huis af is.Ons kinders drink die dorpswater omdat hulle nie weet dat dit besoedel is nie en dan kry hulle maagkrampe.Dit is 'n groot probleem. As ons hulle hospitaal toe neem., sê die dokters daar dat hulle siek word omdat hulle besoedelde water drink en dat mense aangesê moet word om op te hou om die water te drink “

NS
Sedert bogenoemde artikel geskryf is, het ek die geleentheid gehad om met 'n paar inwoners van Carolina te gesels. Hulle sê “Daar was 'n effense verbetering in die gehalte van die water na verslae deur RSG en SABC, maar die gehalte is steeds nie genoeg aanvaarbaar om te kwalifiseer as skoon drinkwater nie.

Toe navraag gedoen is oor die munisipaliteit se bewering dat water op 'n daaglikse basis getoets word, het inwoners bevestig dat die toetse uitgevoer is by die waterwerke waar skoon en helder water uit die sisteem kom. Dit is nie wat by hulle krane uitkom nie -  derhalwe is die enigste gevolgtrekking wat gemaak kan word dat  die pype so verstop is deur afval en modder dat die water wat by die krane uitkom daardeur besoedel word.

Een persoon in die dorp het gesê dat sy gesien het hoe dat munisipale amptenare by 'n plaaslike winkel gebottelde water gekoop het vir drinkdoeleindes.” As hulle daar op aanspraak maak dat die water dan so skoon en veilig is, waarom koop hulle dan water in bottels?” het sy gevra. “Ons sal bly veg vir ons dorp se reg op skoon water – dis 'n basiese menslike noodsaaklikheid.”